Vanaf Saterdag 26 Julie 2025 tot Sondag 7 September 2025 nooi ons jou uit na ‘n besonderse reis van geestelike verdieping – ‘n tyd waarin jy nader aan die Here kan leef, saam met ander gelowiges kan groei, en ‘n nuwe ritme van dissipelskap in jou lewe kan vestig.
Hierdie veldtog is nie net ‘n program of ‘n klomp dagstukkies nie – dis ‘n lewenspad wat ons saam as gemeente wil stap, met Jesus aan die voorpunt.
Elke dag ontvang jy ‘n kort dagstukkie, beskikbaar op jou selfoon via 'n WhatsApp skakel op ons 40 Dae webwerf.
Die dagstukkie neem sowat 20–30 minute per dag en bevat 'n Skrifgedeelte, refleksie, praktiese geloofsaksie en 'n kort oudio- of videosnit.
Elke Sondag fokus die eredienste op die week se tema.
Jy het die opsie om by ‘n gespreksgroep aan te sluit – fisies of aanlyn – dis nie verpligtend nie, maar regtig aan te beveel. Daar is meer inligting oor die verskillende gespreksgroepe op die registrasiebladsy. Enigeen kan aansluit – of jy deel is van Roodekrans gemeente of nie.
Die veldtog begin met ‘n afskopgeleentheid op Saterdag 26 Julie 2025 en loop tot Vrydag 5 September 2025, wanneer ons 'n heerlike basaar hou. Ons kyk terug en besin oor die 40 Dae van Dissipelskap op 7 September 2025, wanneer ons die program afsluit.
Elke week het ‘n unieke tema wat bou op die vorige een. Hier is wat voorlê:
27 Julie – 2 Augustus
“Kom, volg My…” – Mattheus 4:19
Ons begin by die begin: Wat beteken dit om Jesus werklik te volg? Dissipelskap is nie ‘n ekstra opsie vir die ‘geesdriftiges’ nie – dis die kern van ons roeping.
3 – 9 Augustus
“Wie agter My aan wil kom, moet homself verloën...” – Lukas 9:23
Om ‘n dissipel te wees vra toewyding. Hierdie week kyk ons eerlik, maar met hoop, na wat Jesus vra – en hoe Sy genade ons dra.
10 – 16 Augustus
“As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels.” – Johannes 8:31
God se Woord is nie net inligting nie – dis transformasie. Ons word gevorm en gevoed deur die Bybel, en leer om dit te leef.
17 – 23 Augustus
“Waar twee of drie in my Naam saam is...” – Mattheus 18:20
Dissipelskap is nie ‘n solopad nie. Ons het mekaar nodig – vir gebed, aanmoediging en saamgroei. Hierdie week ontdek ons die vreugde van geloofsgemeenskap.
24 – 30 Augustus
“Hierin word my Vader verheerlik, dat julle veel vrug dra.” – Johannes 15:8
Ons is geroep tot meer as oorlewing – ons is gemaak om vrug te dra, sigbaar en tot eer van God. Jou lewe getuig meer as wat jy dink.
31 Augustus – 7 September
“Ek is met julle al die dae…” – Mattheus 28:20
Ons sluit die reis af met die versekering dat ons nie alleen loop nie. Getrouheid tot die einde is moontlik – deur Sy krag, nie ons eie nie.
Die 40 Dae van Dissipelskap is oop vir enigeen - of jy nou deel is van Roodekrans gemeente of nie. Alle inligting oor die 40 Dae van Dissipelskap is beskikbaar by www.40dae.co.za, en dagstukkies is gratis beskikbaar by www.40dae.co.za/home/dagstukkies. Nooi gerus jou vriende en familie om ook deel te wees van hierdie geestelike leerervaring.
Om egter volledig deel te wees van die veldtog, moet jy registreer – selfs al neem jy nie aan ‘n groep deel nie. Dit help ons om jou in te sluit in die daaglikse WhatsApp kommunikasie. Jy ontvang dan die webskakels vir die oordenkings, woon eredienste in persoon of aanlyn by en (indien jy wil) sluit aan by ‘n besprekingsgroep.
Registreer asseblief op die web of vul ‘n vorm in na die erediens.
Ons begin die reis met ‘n heerlike broodfees. Meer besonderhede sal nog volg!
Hierdie is jou uitnodiging om dieper te groei, naby aan Jesus te wandel, en om dit saam met ander te doen.
Begin jou reis. Registreer sommer nou.